Posted by: coenslabber | Januarie 31, 2008

Het leiers onbeperkte mag?

  

It is not that the church’s calling is to ape the world, for it is called rather to develop a Christian counter-culture. At the same time, we must listen tot the voices of the world in order to be able to respond to them sensitively, though without compromise – John Stott.

 

Het leiers onbeperkte mag?

Om hierdie vraag te antwoord, gaan ons kyk na die konings na Salomo tot by die ballingskap. Hierdie konings het die mag van hulle posisie gehad – politieke gesag. Dit gee egter nie outomaties vir hulle godsdienstige en morele gesag nie. Die konings kan baie vir die godsdienslewe van die volk doen – ten goede (Hiskia en Josia) of ten kwade (Manasse).

Meeste van hierdie konings se leierskapstyl sou ons as outoritêr beskryf – hulle was diktators. Maar tog was daar beperkings op hulle mag: hulle moes luister na die profete. So lees ons van Sedekia: Hy het geen berou getoon toe die profeet Jeremia hom op bevel van die Here aangespreek het nie (2 Kron 36:12). Wat sê dit vir ons? Aardse konings is ondergeskik aan die hemelse Koning. Die koning is in werklikheid ‘n dienaar van God. Maar om leier en dienaar te wees is nie so maklik nie – dit klink teenstrydig.

Die konings van hierdie tydperk is dikwels suksesvol volgens ons maatstawe – hulle bou stede, hulle het sterk leërs, hulle wen oorloë, ens. Maar min van hulle slaag die toets van leier en dienaar, Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hierdie sinnetjie klink soos ‘n refrein deur Konings en Kronieke.

Wat leer ons?

1.    Geen leier op aarde het absolute mag nie. Afgesien van die beperkinge wat die wêreld op hulle plaas (direksie of kerkraad), is hulle ook ondergeskik aan ‘n hemelse Koning.

2.    Leierskap maak groot godsdienstige en morele aansprake op leiers. Hiermee gaan baie mense verskil, want ons het mos hoë mure tussen ons godsdiens en ons werk gebou – die twee moet tog net nie deurmekaar raak nie. Dit werk nie so nie: as ek ‘n Christen is, is ek dit sewe dae per week en op alle terreine van my lewe – as ek werk, as ek speel, as ek by my gesin is, as ek Sondag in die kerk is.

 

Lei sonder mag?

Max de Pree het ‘n uitstekende boek (Leading Without Power) geskryf. Sy basiese uitgangspunt is dat jy jou potensiaal kan verwesenlik as jy as persoon en jou organisasie verby beheer beweeg. Dit vereis egter dat jy moet skuif van ‘n organisasie na ‘n beweging. Dinge wat lewe gee aan ‘n beweging sluit in goeie kommunikasie, waarde geheg aan families, ‘n visie wat deur almal gedeel word, die bou van vertroue, ‘n plek van hoop en nalatenskap – laat ek iets betekenisvol na.

Hoe lyk so ‘n plek waar ek my potensiaal kan verwesenlik:

1.    Die beweging is oop vir verandering, meningsverskil, betrokkenheid en idees wat ons kan ontstel.

2.    Die beweging bied die geleentheid vir mense om te leer en te groei.

3.    Die werk is uitdagend.

4.    Alle uitgediende bagasie word weggegooi.

5.    Die beweging moedig mense aan om te besluit wat gemeet moet word – en dan help die beweging mense om die werk te doen.

6.    Die beweging genees mense met vertroue, versorging – en hulle vergeet.

7.    Mense in hierdie bewegings besef dat organisasies ‘n sosiale omgewing is.

8.    Die bewegings vier fees.

Dit is belangrik dat leiers omgewings skep waarbinne mense hulle volle potensiaal kan bereik. Hoe doen hulle dit? Deur bemagtiging, deur alle lede te verryk, deur die organisasie aanspreeklik te hou vir sy mense en deur beheer te los. Dit beteken nie dat mense nie bekwaam moet wees nie: Character cannot replace competence.

Hoe weet ons wanneer ‘n organisasie besig is om agteruit te gaan – om ‘n organisasie te word?

1.    Ons verkies gemak bo veelvuldige sienings.

2.    Ons verkies burokrasie bo selfstandigheid.

3.    Ons verkies beheer bo uitdagings.

4.    Ons vertrou op taakbeskrywings in plaas van persoonlike gawes.

5.    Alle besluit word oorheers deur reëls.

Daar is een faktor waaroor ons nie genoeg praat nie – nalatenskap. Elkeen van ons wil iets nalaat; iets waaraan mense dink as hulle oor ons praat.  A legacy results from the facts of our behavior that remain in the minds of others, the cumulative informal record of how close we came to the person we intended to be” .

 

Posted by: coenslabber | Januarie 30, 2008

God en oorloë; Wêreldsiening

 

If church is not involved in what really matters to people, why should they take any notice? Michael Moynagh.

God se betrokkenheid by oorloë

Ons het gister gekyk na oorloë in die OT. Dit bring onmiddellik ʼn vraag na vore: Is God betrokke by oorloë? Indien wel, hoe is Hy betrokke?

1.    God is alleen betrokke. Net voor die episode by die Rietsee sê Moses vir die volk: Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (Eks 14:14). Israel was net toeskouers; God het die Egiptenare verslaan. Ons kry iets soortgelyks in die verhaal van Josafat. ʼn Klomp buurlande val hom aan. Hy bid tot God en dan kry hy die antwoord van Jagasiël: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ʼn saak vir julle nie, maar vir God (2 Kron. 20:15).

2.    Soms beveel God vir Israel om oorlog te maak en beloof hulle dat hulle sal wen: Moenie bang wees nie … neem al die manskappe met jou saam … Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy land nou aan jou oor (Jos 8:1). Hierdie is natuurlik ʼn aanmoediging vir Israel (hulle hoef nie meer bang te wees nie), maar vir die vyande van Israel beteken dit dat hulle harte van angs verstyf (Jos 5:1).

3.    Soms is daar geen verwysing na God se betrokkenheid nie. In die geveg teen Sihon (Num 21) lees ons nie van God se betrokkenheid nie, maar later sê Moses dat God hom koppig gemaak het en aan Israel oorgegee het (Deut. 2:30).

4.    God en Israel se sinergisme kan ook ander vorms aanneem:

·         In die oorlog teen Amalek moes Aäron en Hur Moses se hande omhoog hou om Israel te laat wen (Eks 17:8 – 16).

·         Sisera, die hoof van Jabin se weermag, word deur ʼn vrou vermoor en Israel se vyande vlug (Rigt 4).

·         Die verhaal van Gideon (Rigters 7) is interessant. God laat Gideon sy aantal manskappe verminder van 32 000 na 10 000 na 300. Hiermee maak God seker dat hulle nie die oorwinning aan hulle eie mag sal toeskryf nie.

 

Wêreldsiening

Ek het onlangs baie gelees oor kerke wat dan kwansuis maak asof hulle al die antwoorde het. Die gevolg is hulle veroordeel almal en alles. Dit is die siening van die kerk van baie jongmense en mense buite die kerk. Is dit waar?

Dit bring ons by die ou filosofiese vraag: Wat is die waarheid? Ek kan glad nie daaroor praat nie, maar ek wil na een aspek kyk: my wêreldsiening. Almal praat deesdae van wêreldsienings of –beelde. Wat bedoel ons daarmee?

1.    My wêreldbeeld is die stories waardeur ek die werklikheid sien.

2.    Deur hierdie stories ontdek ek hoe om die basiese lewensvrae te antwoord – die vrae wat my bestaan bepaal. Wie is ek? Waar is ek? Wat is verkeerd? Wat is die oplossing?

3.    Hierdie stories van my wêreldbeeld en die antwoorde wat dit op die basiese lewensvrae gee, word uitgedruk in kultuursimbole. Vir die ou Israeliete was dit feeste soos die pasga as ook Jerusalem en die tempel. As jy die simbole wat vir my belangrik is, bevraagteken, word ek kwaad of bang. Hierdie simbole kan gesien word as lyndrade – dié wat binne hulle bly, is in (= deel van die kultuur); dié wat hulle ignoreer, is uit.

4.    Praxis. ʼn Mens se wêreldsiening is dikwels baie duidelik uit hoe hy optree.

My wêreldsiening is die basiese boustene van my bestaan – die lens waardeur ek die wêreld sien. Kultuur is basies die simbole plus die praxis van ʼn gemeenskap. My wêreldsiening is soos my huis se fondament: lewensnoodsaaklik, maar onsigbaar. My wêreldsiening word sigbaar uit wat ek glo en wat ek doen.

George Barna het in 2003 ʼn baie belangrike boek oor wêreldsienings geskryf: Think like Jesus.  Daarin sê hy onder andere dat my wêreldsiening ʼn bepalende en sentrale element  van my lewe is. Maar: nobody has ever taught me how to develop a Scripture-based worldview to guide every facet of my life.

Feit #1: Wêreldsiening (-beeld) is baie belangrik.

Feit #2: Daar is iets soos ʼn Bybelse wêreldsiening.

Is dit nie tyd om weer te besin oor wat ons vir mense in die kerk leer nie? As wêreldsiening so belangrik is, en as daar ʼn duidelike Bybelse wêreldsiening is, hoekom leer ons dit nie vir mense nie?

 

Waardes

Nadenke en voornemens gaan nie my lewe verander nie. Ek moet kyk en bepaal watter dinge vir my die belangrikste is. Johannes sê dat daar drie dinge van groot belang is vir die wêreld: plesier, besittings en status – mag, posisie en gewildheid (1 Joh. 2:15 – 16). Hierdie dinge lyk so onskuldig, maar die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby (vs. 17).

Daarenteen, kom ons kyk na drie dinge wat ewigheidwaarde het:

1.    Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand (Matt 22:37).

2.    Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matt 22:39).

3.    In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef. 2:10). Ek moet my tyd, talente en hulpbronne tot voordeel van ander mense belê.

My groot probleem is die gaping tussen wat ek sê en wat ek doen. Paulus het dieselfde probleem ondervind: Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek (Rom. 7:15). Die evangelie vertel ons van die moontlikheid om nou en hier te verander en te groei – om meer en meer soos Jesus te word. Hoe doen ek dit? Kom ons kyk wat sê Paulus:

24Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie (1 Kor9:24 – 27).Ek kan nie net probeer nie – ek moet oefen. Ek gaan nie my lewe verander deur harder te probeer nie, maar net deur die geestelike dissiplines te beoefen. Ek moet dus seker maak ek spandeer my tyd aan die regte dinge – aan die dinge wat ewigheidswaarde het. Het my daaglikse stiltetyd nie drasties hersiening nodig nie? 

Posted by: coenslabber | Januarie 29, 2008

Resultate; Oorlog in die OT

Make humanity your goal and you will find your way to God -  Augustinus

Resultate

Meeste gemeentes beplan nou vir 2008. Wat wil ons in 2008 bereik? Hoe gaan ons dit meet?  Watter veranderinge sal ons sien as ons ons visie en missie suksesvol nastreef? Resultate word gewoonlik gedefinieer as die gevolg van persoonlike of sosiale verandering.

Gewoonlik kyk ons na die verskillende stappe van die proses om dissipels te maak:

1.    Verander mense – lewens word verander (gesindhede, verhoudings, prioriteite, toewyding.

2.    Groei van gelowiges – geloof verdiep (oortuiging, verstaan en optrede). Mense word toegerus om hulle geloof te deel en om die lewenstryd te hanteer.

3.    Stel roeping vas – gelowiges ontdek hulle persoonlike roeping en vervul hulle lewens deur in God se diens ander te help.

4.    Rus leiers toe – leiers ontwikkel passie en die nodige vaardighede.

5.    Dienaars word ontplooi – leiers word bemagtig om die lewens van mense te verander.

Gemeentes gebruik natuurlik ander maniere om te bepaal of hulle hulle doel bereik. Tom Bandy noem ‘n paar:

1.    Baie gemeentes hou daarvan om eerder persoonlikheid en begunstiging en nie beleid as maatstaf te gebruik nie. Dit beteken intimiderende persoonlikhede kan hulle teologiese en ideologiese doelwitte afdwing op die gemeente. Gevolglik verander die beleid met elke nuwe leier – en daarmee saam die wyse waarop sukses bepaal word.

2.    Baie gemeentes hou daarvan om winsgewendheid en nie beleid as maatstaf te gebruik nie. Sukses word bepaal deur die finansiële state. Ons kry dit veral in gemeentes wat op programme staatmaak. Hulle werf, maar bemagtig nie hulle vrywilligers nie.

3.    Baie gemeentes hou daarvan om interne harmonie te beskerm – bestuur deur konsensus. Ons kry dit veral in klein gemeentes – almal moet te alle tye betrokke wees.

Om beleid as suksesmaatstaf te gebruik, is baie moeilik vir hierdie gemeentes, want nou tel persoonlikheid en begunstiging niks nie. Wins is nou ondergeskik aan die resultate en harmonie aan verandering.

Hoe definieer ons beleid op so ʼn wyse dat dit kan dien as suksesmaatstaf? Dit is nie maklik nie. Dit is tydrowend – jy gaan dit nie sommer by die eerste vergadering regkry nie.

(1)  Daar moet eenstemmigheid en duidelikheid oor die gemeente se DNS (visie, missie, kernwaardes) wees.

(2)  Jy gaan dit net regkry deur intense gebed en deur te luister. Jy ontwikkel nie beleid in ʼn kas nie, maar op straat in die gemeenskap.

(3)  Die grootste probleem is dat leiers en leraars onseker is oor hulle eie persoonlike roeping. As hulle onseker is oor hulle roeping en as hulle nie weet wat hulle doel in die lewe is nie, gaan die gemeente ook nie slaag nie.

 Hierdie is natuurlik maar ʼn deel van die totale bestuur van die gemeente. Maar hierdie is ʼn belangrike stap. Nou is leiers en lidmate meer gefokus – en hulle kan hulle inisiatief aan die dag lê.

 

Oorlog in die Ou Testament

The God of the Old Testament is arguably the most unpleasant character in all fiction (Richard Dawkins inThe God Delusion).

The Christian God is a being of terrific character – cruel, vindictive, capricious and unjust (Thomas Jefferson).

Kom ons wees eerlik: daar is darem wreedhede in die OT wat ons ook pla.

Kan jy werklik ʼn volk wees sonder enige grondgebied? Maar die oomblik as jy grondgebied kry, moet jy dit kan beskerm. Realpolitik: mense neem grondgebied van ander af – met of sonder geweld. God gee die land aan Israel, maar dit beteken dat hierdie grond van ander weggeneem word.  Let net op die werkwoorde wat ons in Deuteronomium 7 kry: inbesit sal neem …in jou mag oorgee … verslaan … verdryf … uitwis … van die aarde af wegvee.

Die OT het verskillende perspektiewe op oorlog. Israel maak vir ʼn verskeidenheid redes oorlog.

1.    Bevrydingsoorloë.  Reeds in Genesis 14 lees ons van vier konings wat vir Lot gevange neem. Abraham moet Lot bevry en daarvoor moet hy mag gebruik. In Rigters lees ons van ʼn aantal bevrydingsoorloë. God gee deel van land in die hande van die vyand – Israel roep tot God om hulp – God verlos Israel deur ʼn rigter op te rig om die vyand te verslaan.

2.    Passiewe oorlogvoering. Israel maak nie oorlog om uit Egipte weg te trek nie; Israel maak nie oorlog teen die Egiptenare by die Rietsee nie. God veg vir hulle en hulle behaal die oorwinning.

3.    Defensiewe strafmaatreëls.  Amalek trek sonder enige rede teen Israel op (Eks 17:8 – 16). Israel reageer op die inval en God straf Amalek. Israel wen geen grondgebied hierdeur nie.

4.    Aggressiewe strafmaatreëls. Ons lees van Israel se afgodsdiens by Sittim – 24 000 mense sterf (Num 25). In 1 Samuel 15:18 kry Saul opdrag om teen die Amalekiete op te trek en hulle uit te roei. Daar is nog baie sulke voorbeelde.

5.    Passiwiteit. God het Israel uitgekies; Israel is God se mense en Hy is Israel se God. Israel moet met sy bure saamleef

[Ons lees vandag so baie van ʼn geregverdigde oorlog: beperk sterfgevalle veral onder burgerlikes. Ons lees niks hiervan in die OT nie.]

Oorlog is nooit die ideale situasie nie, maar in die OT word dit soms, onder sekere omstandighede, as geregverdig beskou. Maar die OT kyk ook vooruit na ʼn tyd wanneer God ʼn einde sal bring aan alle oorloë:

2In die laaste dae sal die tempel van die Here in Jerusalem die belangrikste plek op aarde word. Mense van reg oor die aarde sal daarheen stroom om daar te kom aanbid. 3Volke sal daarnatoe kom en vir mekaar sê: “Kom ons gaan na die berg van die Here toe, waar die tempel van Israel se God is, sodat Hy ons kan leer wat Hy van ons verwag en ons dan daarvolgens kan lewe. Want die woord van die Here kom uit Jerusalem uit en Hy maak sy wil bekend van Sion af.” 4Die Here sal geskille tussen lande en volke oplos. Die gevolg hiervan sal wees dat hulle hulle swaarde sal smelt en eerder ploegskare daarvan sal maak. Van hulle spiese sal hulle snoeiskêre maak. Daar sal ’n einde kom aan oorlog en niemand sal meer opgelei word om te gaan veg nie (Jes 2:2 – 4).

Posted by: coenslabber | Januarie 28, 2008

Tot seën van ander; Ouderdom

 

No one can get up to that far crest unless he first goes down to the valley below. For our way leads downwards … Christ showed this himself – Augustinus.

Tot seën van ander …

Ons is nog besig met die verhaal van die OT. Ons lees dat God met Abraham praat. Hy sê onder andere: en jy moet tot ʼn seën wees (Gen 12:2). Hoe kan ek ander tot seën wees? In Genesis 18 en 19 lees ons van hoe Abraham ander tot seën was:

1.    Gasvryheid.  Dis warm. Abraham sit by sy tentdeur. Toe hy opkyk, sien hy drie mans wat daar staan. Wat doen hy? Hy gaan hulle tegemoet en nooi hulle nader; hy bring vir hulle water om hulle voete mee te was; hy beveel Sara om roosterkoeke te bak; hy slag ʼn mooi jong kalf. Onthou hy het gedink hierdie is vreemdelinge, maar hy berei ʼn uitsoekmaal voor. En ons? Ag, hier is al weer mense. Wat kan ek tog vir hulle gee.

2.    Die Here is besig om na te dink oor Abraham. En wat dink Hy? Abraham het sy kinders en nageslag beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is (18:19). Wat ʼn groter seën kan ek gee as juis dit?

3.    God het gekom om Sodom en Gomorra te straf. Abraham tree onmiddellik vir hulle in by God: Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Abraham het vir die regverdiges in Sodom by God ingetree – hy het vir hulle gebid.

Abraham gee vir ons hier drie voorbeelde van hoe ek tot seën van ander kan wees:

1.    Ek kan ook gasvry wees teenoor ander – ook diegene wat nie my vriende is nie.

2.    Ek kan ook vir ander ʼn voorbeeld wees om te doen wat goed en reg is.

3.    Ek kan ook vir ander bid.

 

Ouderdom

The older I get, the better I was – “bumper sticker” in die VSA.

My lewe word bepaal deur die keuses wat ek maak. Ek kan na die toekoms kyk met vrees en gedurig dink aan die foute wat ek in die verlede gemaak het of ek kan besluit die toekoms gaan beter wees as die verlede. Om ouer te word, is ʼn voorreg, maar dit is ook ʼn keuse. Ouer word het niks met my aantal jare te doen nie – ouer word is ʼn ingesteldheid. As ek na die toekoms kyk met vrees en suspisie, is ek oud. As ek sinies, hiperkrities en bitter oor die verlede is, is ek oud. As ek hoop dat 2008 darem nie slegter as 2007 sal wees nie, is ek oud.

Ek kan verander – veral hier aan die begin van die jaar. Doen ek dit kan ek aan die einde van die jaar vir my ʼn nuwe “bumper sticker” kry: The older I am getting, the better I am. Dit is moontlik. Hoe kan ek dit doen. Ek moet vir my ʼn spesifieke doel in die lewe identifiseer. Die Spreuke-skrywer praat van ʼn doel wat alle ouer mense moet nastreef: Gee leiding aan ʼn jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy oud is nie daarvan afwyk nie (22:6).

 

Aanspreeklikheid

Graig Groeschel vertel van die beginjare van die evangelie in Afrika. Mense was opgewonde; gebed was by hulle ʼn passie. Hulle het selfs vir hulleself klein gebedshutjies opgerig. Elke hutjie was net vir een persoon. Die paadjie na die hut is net deur daardie persoon gebruik.

 

Sodra iemand gebed afgeskeep het, het gras in sy/haar paadjie begin groei. Wie was daardie broer/suster wat afgedwaal het se beste vriende? Die mense wat bereid was om na die persoon wat sy gebedslewe afgeskeep het, te stap en te sê: “Ek het jou lief. Ek sien daar groei gras in jou paadjie.”

Het ek en jy sulke vriende? Mense wat bereid is om na ons te kom en te sê: “Ek het jou lief. Jy doen nie dit waarvoor God jou geroep het nie.”

 

Maak dissipels

Jesus gee aan elkeen van ons ʼn spesifieke opdrag: maak die mense my dissipels. Hoe doen ek dit? Waar begin ek? Dit begin as ek ruimte in my kerk en in my lewe skep vir mense wat seer het, wat stukkend is, wat vuil is. Ons moet in ons kerke ʼn atmosfeer van aanvaarding skep. Ons moet ruimte laat vir mense om vrae te vra, om hulle twyfel uit te spreek, om hulle stryd met ons te deel. Deur dit te doen, sal hulle die waarheid en vergifnis … en vir Jesus ontdek. Ek kan nie Jesus met dwang aan iemand voer nie. Ons moet ophou sê: “Verander en jy is welkom by ons in die kerk.” Aanvaar hulle net soos hulle is as hulle by die deur instap.

As ek mense nie aanvaar nie, sal hulle nooit hulle seerkry en twyfel by my aflaai nie. Voordat hulle nie eers van hulle seerkry en twyfel ontslae geraak het nie, is daar net nie plek in hulle lewens vir God se Gees nie.  Hoe maak ek dissipels? Deur iemand lief te hê al is hy/sy diep in ʼn put vasgevang.

 

Geskenke

Archie Manning se seuns is skatryk professionele voetbalspelers (Amerikaanse voetbalspelers). Na Kersfees het hulle ʼn onderhoud met hom gehad. Een van die vrae was: “Watter Kersgeskenke wat jou seuns ooit vir jou gegee het, was vir jou die kosbaarste?”  Weet jy wat was sy antwoord? Portrette en handgemaakte voorwerpe. Hoekom? Omdat hierdie geskenke iets van sy seuns in hulle het. As ek ʼn geskenk vir iemand gee, moet ek myself afvra: “Het hierdie geskenk iets van my daarin?”

 

Posted by: coenslabber | Januarie 25, 2008

Tradisie; Waar is Jesus gebore?

 

Just as one could not speak of the church without speaking of its mission, it was impossible to think of the church without thinking, in the same breath, of the world to which it is sent – David Bosch

 

Tradisie

As leermeester is Jesus betrokke by die toepassing van die Skrif op mense se lewens. Interpretasie van die Skrif is dikwels ʼn baie kontroversiële saak. In Jesus se geval gebeur dit ook. Veral sy interpretasie van reinheid en die onderhouding van die Sabbat het baie mense omgekrap.

Die Fariseërs glo daarin dat hulle die tradisies van hulle voorvaders moet volg. In beginsel is dit nie verkeerd nie, want so leer ons uit die wysheid van die verlede – ons hoef nie elke keer weer voor te begin nie. Dit is ook belangrik, want ons eie insigte is soms baie eng. Maar net soos my eie insigte mag ek nooit tradisie verabsoluteer nie. Tradisie is die dienaar van die Skrif – Skrif en tradisie lê nie op dieselfde vlak nie.

In Matteus 15:1 – 9 is Jesus en die Fariseërs aanmekaar oor die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte.

Fariseërs: Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte?Jesus: Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?

Dit is ʼn tragedie dat ʼn reël mettertyd ʼn eie lewe kry – dit word ʼn doel op sigself. Jesus hanteer hierdie tradisie (hande was voor jy gaan eet) met wat ons sou beskryf as ʼn ooglopende waarheid: Dit is nie wat by die mond ingaan wat ʼn mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ʼn mens onrein.

Tradisie is belangrik. Ons lees meer en meer dat van die ou tradisies van die kerk besig is om terug te kom. Ek dink dit is ʼn goeie ding, mits ons altyd die plek van tradisie onthou: die Skrif is primêr; tradisie is sekondêr. Waar die twee bots, kry die Skrif altyd voorrang.

 

Waar is Jesus gebore?

Rondom Kersfees het ons baie vrae gehad van mense wat gevra het of Jesus werklik in ʼn krip in ʼn stal in Betlehem gebore is. Ek is bewus van ʼn klein groepie (veral argeoloë) wat glo dat Jesus in Nasaret gebore is en nie in Betlehem nie. Ek wil eerder fokus op Betlehem, want ek dink nie daar is enige rede om Betlehem as Jesus se geboortedorp te bevraagteken nie.

 Ons kan aanvaar dat Jesus in Betlehem tydens die bewind van Herodes, die koning, gebore is. Was dit op die plek waar die Geboortekerk tans in Betlehem staan? Of het Konstantyn sommer willekeurig besluit dat dit die plek is waar Jesus gebore is?. Onder die gewelfde boog van die kerk is daar ʼn grot en dit is die sleutel. Matteus en Lukas maak geen melding van hierdie grot nie, maar Justinus (100 – 165) vertel van ʼn grot waarin Josef en Maria was toe Jesus gebore is. Justinus is in die huidige Nablus, ongeveer 60 km noord van Betlehem, gebore. Party geleerdes beweer dat Justinus die grot uitgedink het, want dit vervul Jesaja 33:16: So ʼn mens sal sy woonplek in die hoë berge hê, sy skuilplek sal ʼn rotsvesting wees.

Origenes, die vroeë kerkvader , het ook na hierdie grot verwys en gesê dat heelwat besoekers die grot besoek het. Vanaf 135 vir ongeveer 180 jaar was die grot ʼn heiligdom vir Adonis. Toegang deur Christene was dus nie moontlik nie. Tog het die Christene in Betlehem vir 200 jaar geglo dat hierdie grot die geboorteplek van Jesus was.

Konstantyn het die oorspronklike Geboortekerk oor die grot gebou. Die wydingsgeleentheid was op 31 Mei 339. Pelgrims kon die grot deur ʼn gat in die vloer besigtig. Laat in die vierde eeu het die kerkvader Hieronimus, na Betlehem verhuis. Daar het hy die Ou en Nuwe Testamente in Latyn vertaal – die Vulgaat. [Vulgaat omdat dit in die gebruikstaal van die dag geskryf is.] In die sesde eeu het Justinianus ʼn groter gebou op die fondamente van Konstantyn se oorspronklike kerk gebou. Baie min veranderinge is sedertdien aan die gebou aangebring ten spyte van ʼn groot aardbewing en brand.

 

Posted by: coenslabber | Januarie 24, 2008

Sterk leiers; Uitmuntenheid

 

We simply were not impacting anyone by sequestering ourselves in a building and preaching to each other truths we all already believed- Brian Sanders

Ek is ʼn sterk leier!

Ons het gister na Moses se voorskrifte vir leiers gekyk. Vandag kyk ons na iemand wat graag ʼn sterk leier wou gewees het – Rehabeam (1 Kon 12:1 – 16).

Salomo is dood en Rehabeam trek op na Sigem waar die volk hom wou kroon as die nuwe koning. Daar is een klein probleempie. Jerobeam, wat na Egipte gevlug het tydens Salomo se bewind, keer terug. Hy en die volk vra toe vir Rehabeam om hulle las ligter te maak – belastings en dwangarbeid. Rehabeam doen die regte ding: hy vra die mense om na drie dae terug te kom. Intussen vra hy raad by sy raadgewers. Ongelukkig is daar twee groepe en hulle aanbevelings verskil:

1.    Die ouer mense glo dat Rehabeam die mense tegemoet moet kom. As hy hulle ʼn gunstige antwoord gee, sal hulle lewenslank sy onderdane bly.

2.    Die jonger manne glo dat Rehabeam die mense moet vasvat – maak hulle juk swaarder en gesel hulle.

Rehabeam volg die raad van die jonger manne en die uiteinde is dat die ryk skeur.

Wat gaan hier aan?

·         Die ouer manne voel dat die koning ʼn dienaar van die volk moet wees. Hy moet hulle onderdrukking verminder. Dit was destyds die tradisie in die Midde-Ooste dat ʼn nuwe koning sekere beloftes aan die volk maak. [Soos politici steeds voor verkiesings doen!] Hiermee sal hy die lojaliteit van die volk wen.

·         Die jonger manne glo in sterk leierskap – moenie toegewings maak nie; dit is ʼn teken van swakheid. As jy nou toegewings maak, sal die mense dink dat jy dit altyd sal doen.

So baie leiers glo soos Rehabeam: wees sterk; gee jy die pinkie gaan jou volgelinge  alles neem; as die mense eers dink jy is ʼn swak leier is dit klaarpraat met jou. Klink so bekend. Ek is die leier en die mense moet dit besef. Ons moenie dink hierdie leiers kry niks reg nie. Hulle is dikwels baie suksesvol, maar hulle sukses is nie blywend nie – dit is net korttermyn.

Wat is ʼn kerkleier se groot taak? Ons kan nou begin met lyste, maar eintlik is dit basies eenvoudig: kommunikeer die visie wat jy van God gekry het aan die mense en dien hulle? Hoe? Deur hulle toe te rus om hierdie visie te bereik. Sou dit nie wonderlik gewees het as mense graag leiers wou wees, omdat hulle God en mense wil dien nie. Ons sien maar min daarvan.

 

Uitmuntendheid

Hierdie is ʼn waarde wat ons in baie gemeentes kry. Daar is niks mee verkeerd nie, maar dit is nie sonder gevare nie. Kom ons kyk na hierdie gevare:

1.    Elitisme. As ons praat van uitmuntendheid doen ons dit dikwels neerhalend: “Ander mag met minder tevrede wees, maar vir ons net die beste goed genoeg.” Daar is natuurlik ander wat nie die “beste” kan bekostig nie. Maar daar is meer subtiele vrae wat ons vir ons moet vra. Kan net professionele sangers optree in die kerk? Moet my dominee beroemd wees? Die evangelie se teiken is ook die armes en die randfigure in ons samelewing – nie net dié wat uitmuntend is nie.

2.    Duur.  Uitmuntendheid vereis dikwels groot bedrae geld. Net die beste is goed genoeg – maak nie saak wat dit kos nie. Mense is gedompel in skuld; kerke is gedompel in skuld, omdat hulle uitmuntendheid najaag. Geen tweedehandse karre nie; massiewe kerkgeboue met alles wat oop en toe maak. Jesus het nie eers ʼn ryding gehad nie, behalwe toe Hy Jerusalem ingekom het – Hy het geloop. Op die See van Galilea het Hy nie in ʼn luukse boot gevaar nie – nee, ʼn gewone visserskuit.

3.    Altyd hoër. Ons is voortdurend besig om die vlak van uitmuntendheid hoër te skuif. Oorhoofse projektors is uit; moet nuwe dataprojektors wees. Natuurlik is dit lekker en gemaklik, maar is dit beter?

4.    Selektief. Wat is in? Musiek, die dominee se voordrag, die kerkterrein. Waar is morele uitmuntendheid van lidmate? Waar is geestelike diepte van lidmate? Ja, die sangers is uitmuntend, maar waar is die gemeentesang?

5.    Uitputtend. Baie van hierdie uitmuntendheidsnajaers is perfeksioniste. Perfeksionisme is ʼn afwyking. Die Bybel sê dat sonder baie genade en vergifnis ons nooit volmaak kan wees nie.

6.    Verdelend.  As idealisme en die werklikheid mekaar ontmoet, word jy uitmekaar geskeur.

 

Maar as uitnemendheid dan uit is, wat is in?

1.    Doeltreffendheid. Jy kan uitmuntend en ondoeltreffend wees. Mense met gemiddelde vermoëns kan doeltreffend wees al is hulle nie uitmuntend nie. As jy moet kies tussen die twee kies doeltreffendheid.

2.    Geduld. Groot doelwitte is nie verkeerd nie. Wat verkeerd is as jy hulle binne ʼn maand wil bereik. [Dan is hulle in ieder geval nie so groot nie.]

3.    Insluiting. Ons moet leer om mense met gemiddelde vaardighede, intelligensie en talente betrokke te kry by die aktiwiteite van die gemeente. Mense wat met oorgawe sing al het hulle ʼn probleem met tegniek is tog nie verkeerd nie.

Ons leef in ʼn tyd van weelde, uitmuntendheid en vertoonkuns wat selfs die kerk betrek. Moet ons nie gaan sit en besin waarheen ons op pad is nie?

 

Posted by: coenslabber | Januarie 23, 2008

Leiers volgens Moses

 

“The only way to compose myself and collect my thoughts is to sit down at my table, place my diary before me, and take my pen into my hand. This apparatus takes off my attention from other objects. Pen, ink, and paper and a sitting posture are great helps to attention and thinking.” John Adams

 

Leiers volgens Moses

Moses en die Israeliete het pas gesien hoe God die Egiptenare  by die Rietsee uitgewis het. Uit dankbaarheid sing Moses en die Israeliete ʼn lied. Hy sluit hierdie lied af met: Die Here regeer tot in ewigheid (Eks 15:18). Maar wat nou van aardse konings en leiers? Het hulle ʼn bestaansreg?

 Moses het egter besef dat die volk, sodra hulle hulle eie land besit, ʼn koning sou wou hê. Moses is nie baie entoesiasties oor die idee nie, maar keur dit tog goed. Hy gee dan ʼn aantal riglyne wat ons met groot vrug op leiers van vandag kan toepas (Deut. 17:14 – 20):

1.    Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Leiers in die kerk is mense wat deur God uitgekies is – vandag nog.

2.    Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Xenofobie? Ek haat alle vreemdelinge? Nee, hierdie koning moet sy onderdane as sy eie broers/susters hanteer. Hy sal dit nie kan doen as hy ʼn vreemdeling is nie. Elke gemeente het sy leiers. Soms is dit nodig om na buite gaan om leiers te soek, maar soek eers binne jou gemeente.

3.    Hy mag nie baie perde aan hou nie ... die koning mag ook nie baie vrouens hê nie … hy mag ook nie sy silwer en goud te veel laat word nie. Die leier se fokus is op die werk van die Here. Status, plesier en rykdom is dinge wat ʼn leier kelder. Hy moet al die dinge wat hom verlei en sy aandag aftrek, uitskakel.

4.    Sy lewe lank moet hy dit (die wet – die Skrif) gereeld lees. Die Bybel is die leier se “handboek.” Hoekom? Sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees in alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe. Die eerste ding waarna mense soek in ʼn leier is integriteit/karakter.

5.    Dan sal hy hom nie bokant sy volksgenote verhef nie. Hulle is immers sy broers/ susters en familielede verhef hulle nie bokant mekaar nie.

 Lees die leierskapsboeke en elke jaar is daar ʼn nuwe ding wat alles gaan verander – net om volgende jaar deur iets anders vervang te word. Ek het niks teen die lees van boeke oor leierskap nie – ek lees baie van hulle. Ek moet net nooit die leierskapslesse uit die Bybel vergeet nie. Snaaks genoeg: hierdie lesse raak nie uitgedien nie.

Egtheid

Jim Gilmore en Joe Pine se nuwe boek: Authenticity: What consumers really want, het onlangs verskyn. Hierdie is uiteraard ʼn boek vir besigheidsmanne, maar daar is tog lesse wat ons kan leer. Ek skryf so ʼn aantal los punte neer:

Eers was dit prys; toe was die kwaliteit; nou is dit egtheid.

Mense koop toenemend dinge wat met hulle selfbeeld ooreenstem. Hoe dikwels sal vroue nie na ʼn rok kyk en sê: “Dis nie ek nie.”

Elke persoon bepaal wat vir hom/haar eg is. Jy kan dus nooit egtheid te alle tye vir alle mense lewer nie.

As jy eg is, hoef jy dit nie te sê nie.

As jy sê jy is eg, gaan mense jou oordeel oor wat jy gesê het wie jy is.

Verkeerde besluite

Almal neem op een of ander stadium ʼn verkeerde besluit – behalwe as jy natuurlik geen besluite neem nie. Wat doen ek as ek ʼn verkeerde besluit geneem het? Leer daaruit.

Les #1: Wees nederig

Dis nou nie so maklik nie. Niemand van ons hou van mislukking nie. Besef dat een verkeerde besluit nie beteken dat jy ʼn mislukking is nie. Alles hang af van hoe jy die verkeerde besluit hanteer. Steek jou trots in jou sak en wees nederig.

 Les #2: Erken jou foute

Jy kan eintlik net jou foute erken as jy nederig is. Moenie jouself probeer verdedig nie. Mense waardeer dit as jy eerlik en openlik erken dat jy ʼn fout gemaak het. Lidmate waardeer dit as leiers in ʼn krisis eerlik met hulle is – al skep dit vir die leier ʼn verleentheid.

Les #3: Soek saam na God se wil

As jy op ʼn kruispunt staan, moet jy dit beskou as ʼn ideale geleentheid om God se wil te soek. Identifiseer jou grootste struikelblokke en dinge waaroor julle besluite moet neem. Dit is beter om soveel as moontlik mense wat betrokke is of geraak word deur die verkeerde besluit bymekaar te kry en God se wil te vra in gebed.

Les #4: Vreugde as die risiko gedeel word

Daar is niks wat mense so vinnig saambind as om saam swaar te dra nie. Dit is net soveel beter as jy uiteindelike sukses met ander kan deel. Leierskap is nie ʼn solovaart nie. Selfs Moses het vir Aäron en Hur gehad om hom te ondersteun.

 

Verkeerde besluite is ʼn leergeleentheid. Dit is ook ʼn geleentheid om jou nader aan God te bring, want ʼn verkeerde besluit bring jou op jou knieë – die beste plek in enige krisis.

 

Posted by: coenslabber | Januarie 22, 2008

En ‘n prostituut … ; Martin Luther King Jr

 

Church people think about how to get people into the church; kingdom people think about how to get the church into the world. Church people worry than the world may change the church; kingdom people work to see the church change the world – Howard Snyder.

En ʼn prostituut …

Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het (Psalm 8:3).

En ʼn prostituut …

Josua het pas deur die Jordaan getrek – Israel is in die beloofde land. Josua stuur onmiddellik twee verkenners om die land te bespied – veral Jerigo (Jos 2:1). Daar red ʼn prostituut, Ragab, hulle en lewer hierdie ongelooflike getuienis:

“Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. 11Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

Dit beteken geweldig baie vir die verkenners:

1.    Hulle kry bemoedigende nuus oor die lae moraal van die inwoners van Jerigo; en

2.    Hier is nog ʼn bewys dat God aan die werk is.

Geen wonder hulle gaan terug en lewer ʼn baie positiewe verslag nie. [Dit herinner ons as die verspieders wat Moses gestuur het wat teruggekom het met ʼn negatiewe meerderheidsverslag.]

 

ʼn Mens sou verwag dat die Israeliete vir Ragab sou verwerp het. Sy was immers onrein. Dit gebeur nie:

25Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het (Jos 6:25). 

Hier is weer vir ons ʼn belangrike les: God gebruik mense wat ons nie sou reken nie. Die psalm praat van kinders en suigelinge; die verhaal van Jerigo praat van ʼn prostituut. En ons? Ons bou mure om ons kerke om hierdie mense – prostitute, haweloses, bedelaars, krotbewoners – buite te hou. Sê nou maar net God wou hulle in ons lewens gebruik het?

 

Evangelisasie

Wat is evangelisasie? Jou eerste reaksie sal wees: Waarom nou so ʼn vraag?  Daar is meer en meer skrywers wat bekommerd is oor dinge wat ons evangelisasie noem wat nie evangelisasie is nie. Kom ons kyk na enkeles van hulle:

1.    Dwang. ʼn Algemene vraag wat ons hoor, is: “Is dit nie verkeerd om jou sienings op ander af te dwing nie?”  Natuurlik is daar sekere maniere van evangeliseer wat as dwang gesien kan word. Maar dit is nie hoe die Bybel evangelisasie beskryf nie. Die eerste ding om te onthou, is dat die boodskap wat jy met ander deel ʼn feit en nie ʼn mening is nie. Die waarhede wat jy met ander deel, is ook nie jou waarhede nie – dis nie jou mening nie. Dit is die evangelie; jy het nie die gesag om dit te verander nie.

2.    Persoonlike getuienis. Toe die blinde man voor die Fariseërs staan en weer moes getuig oor die Man wat hom gesond gemaak het, sê hy: Of hy ʼn sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind en nou sien ek (Joh. 9:25). Hier het ons ʼn baie sterk persoonlike getuienis ten spyte van die dreigemente van sy ondervraers. Dit is egter nie evangelisasie nie – die man het nie eers geweet wie Jesus is nie. Om te getuig van jou veranderde lewe is kragtig en inspirerend, maar dit is die evangelie van Jesus Christus wat alles duidelik maak.

3.    Sosiale optrede en betrokkenheid in die samelewing. Deur God se deernis in ons optrede te weerspieël, is goed en reg, maar dit is nie evangelisasie nie. Jy het nog nie die evangelie met iemand gedeel nie. Evangelisasie beteken dat die evangelie duidelik verkondig moet word.

4.    Apologetiek. Natuurlik is apologetiek ʼn goeie ding. Wees altyd gereed om ʼn antwoord te gee aan elkeen wat van julle ʼn verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Pet 3:15). Dit is wat apologetiek doen – dit antwoord mense se vrae oor God of Christus of die Bybel of die evangelieboodskap. Om vrae te antwoord is dikwels deel van ons gesprekke met nie-Christene, maar dit is nie evangelisasie nie. Dit kan natuurlik wonderlike geleenthede skep vir evangelisasie. Die gevaar is dat jy weggelei word van die kernboodskap. Jy reageer in ieder geval hier op ʼn agenda wat iemand anders bepaal het. Evangelisasie is ʼn positiewe optrede: ek vertel die goeie nuus van Jesus Christus en die pad van verlossing deur Hom. Hy moet die agenda bepaal.

5.    Die resultate van evangelisasie.  Die bekering van ongelowiges is die resultaat van evangelisasie nie evangelisasie self nie. Evangelisasie is die vertel van die evangelieverhaal. Moderne evangelisasie het ʼn element van emosionele manipulasie in hom – kry ʼn vinnige besluit en vergeet dat bekering die gevolg is van God se bonatuurlike en  genadige optrede. Ons is so geneig om vinnig al die bekerings te tel en in die proses ondermyn ons ware evangelisasie.

 

Die Christen se oproep om nie-Christene te evangeliseer, gaan nie daaroor dat ons mense vinnig moet oorreed nie, maar dat ons vir hulle die Goeie Nuus moet vertel, dat ons hulle vra om hulle sondes te bely. Ons moet God verheerlik, want bekering is sy werk. Ons misluk nie as ons vir iemand die Goeie Nuus vertel en hy bekeer hom nie; ons misluk as ons nie vertel nie. Evangelisasie per se is nie die bekering van mense nie – dit is om hulle te vertel dat hulle bekeer moet word en om hulle vertel hoe hulle werklik kan wees.

 

Hierdie gedeelte is ʼn opsomming van werk gedoen en gepubliseer deur Mark Dever in sy: The Gospel and Personal Evangelism. Hier is ʼn paar punte wat my weer laat dink het. Stem u saam met wat hy sê?

 

Martin Luther King Jr

Maandag was ‘n openbare vakansiedag in die VSA – ter herdenking aan Martin Luther King Jr.  Sondag het Barack Obama in Dr King se kerk in Atlanta gepreek. Hiermee ‘n kort uittreksel uit sy preek:

Unity is the great need of the hour – the great need of this hour. Not because it sounds pleasant or because it makes us feel good, but because it’s the only way we can overcome the essential deficit that exists in this country.I’m not talking about a budget deficit. I’m not talking about a trade deficit. I’m not talking about a deficit of good ideas or new plans.I’m talking about a moral deficit. I’m talking about an empathy deficit. I’m taking about an inability to recognize ourselves in one another; to understand that we are our brother’s keeper; we are our sister’s keeper; that, in the words of Dr. King, we are all tied together in a single garment of destiny.And that is what is at stake in the great political debate we are having today. All of us will be called upon to make some sacrifice. None of us will be exempt from responsibility. We will have to fight to fix our schools, but we will also have to challenge ourselves to be better parents. We will have to confront the biases in our criminal justice system, but we will also have to acknowledge the deep-seated violence that still resides in our own communities and marshal the will to break its grip.That is how we will bring about the change we seek. That is how Dr. King led this country through the wilderness. He did it with words – words that he spoke not just to the children of slaves, but the children of slave owners. Words that inspired not just black but also white; not just the Christian but the Jew; not just the Southerner but also the Northerner.He led with words, but he also led with deeds. He also led by example. He led by marching and going to jail and suffering threats and being away from his family. He led by taking a stand against a war, knowing full well that it would diminish his popularity. He led by challenging our economic structures, understanding that it would cause discomfort. Dr. King understood that unity cannot be won on the cheap; that we would have to earn it through great effort and determination.That is the unity – the hard-earned unity – that we need right now. It is that effort, and that determination, that can transform blind optimism into hope – the hope to imagine, and work for, and fight for what seemed impossible before.

Is hier nie baie in vir ons in Suid-Afrika nie? 

Posted by: coenslabber | Januarie 21, 2008

Die Beeld van God; Die waarheid

 

As jy dit kan verstaan, is dit nie God nie – Augustinus

Die OT: Die Beeld van God

Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld … (Gen 1:26).

Onmiddellik staan ons voor ʼn probleem: Wie is hierdie Ons?

·         Ons moet aanvaar dat die Drie-eenheid by die skepping betrokke was, maar die mense van die OT sou nie hierdie begrip verstaan het nie.

·         Verwys dit na God en sy hemelwesens?

·         Of word hier gebruik gemaak van die “royal we” – as die koningin na haarself verwys, praat sy van “we.”

Verdere belangrike punte is:

(a)  Genesis 1 en 2 sê nie minder as drie maal dat God die mens gemaak het nie.

(b)  God seën die mens (1:28) – iets wat Hy nie met die diere gedoen het nie. Dit beklemtoon net verder dat die mens die hoogtepunt van sy skepping was.

(c)  God maak die mens (= alle mense) na sy beeld. In party van die ander Midde-Oosterse skeppingsverhale word die koning wel na die beeld van die gode gemaak, maar nooit al die mense nie. In Psalm 8:6 lees ons dat God die mens net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak het. Weereens geld dit vir alle mense – Israeliete en nie-Israeliete.

Met hierdie as agtergrond kom ons kyk na die uitdrukking van die beeld van God

Die beeld van God

Ons kan nie uit die uitdrukking of sy onmiddellike konteks aflei wat dit beteken nie. Ons moet die hele OT lees om dit beter te verstaan. As ons let op sekere spesiale kenmerke van die mens – rasioneel, godsdienstig, eties, emosioneel, en andere – forseer dit ons om na te dink oor die wese/aard van die God in wie se beeld ons gemaak is. Dit help ons nie:

(i)            Mense wat die godsdienstige aard van die mens beklemtoon, sien God se beeld as die mens se vermoë om ʼn verhouding met God daar te stel en Hom te aanbid.

(ii)           Mense wat die mense se vermoë om rasioneel te dink beklemtoon, sien God se beeld in die mens se rasionaliteit.

(iii)          Mense wat die mens se vermoë om eties op te tree, beklemtoon, sien God se beeld in die mens se etiese nadenke en besluitneming.

Wat hierdie drie voorbeelde in gemeen het, is dat hulle almal verwys na die mens se innerlike natuur.

Maar ʼn beeld is tog die verteenwoordiging van iets meer konkreet en sigbaar. Verwys beeld van God na die mens se liggaamlike aard? Genesis 1 sê immers dat God kan praat, kyk en maak. In die OT lees ons dat God die persoonlike eienskappe het wat ons ook by die mens kry – Hy het oë, ʼn mond, neus, gesig, arms en hande. Hy kan dink en voel. In Eksodus 24:9 – 12 lees ons iets merkwaardig: Moses, Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van Israel klim die berg op: Hulle het die God van Israel gesien … hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink. Elders lees ons dat die mens God nie kan sien en bly leef nie. Het ons hier te doen met antropomorfisme (= om die vorm en persoonlikheid van die mens aan God toe te skryf.) In die NT het God natuurlik mens geword met al die liggaamlike eienskappe van ʼn mens.

Die waarheid?

Daar is drie dinge wat ons baie geneig is om te vergeet as ons praat oor kennis:

1.    Ek kyk vanuit een hoek na die saak. Daar is nie so iets soos ʼn neutrale siening nie. Dit beteken uiteraard dat daar ook ander hoeke mag wees om na die saak te kyk.

2.    Gevolglik: alle mense interpreteer die inligting wat hulle deur hulle sintuie ontvang. Hierdie interpretasie word bepaal deur my verwagtings, geheue, stories, ens.

3.    Waar ek staan en die metaforiese lense waardeur ek kyk, word tot ʼn groot mate bepaal deur die gemeenskap waaraan ek behoort. Every human community shares and cherishes certain assumptions, traditions, expectations, anxieties, and so forth, which encourage its members to construe reality in particular ways, and which create contexts within which certain kinds of statements are perceived as making sense. There is no such thing as the ‘neutral’ or ‘objective’ observer; equally, there is no such thing as the detached observer (NT Wright)

 

Moet dus nie te gou wees om ander te oordeel nie.

Posted by: coenslabber | Januarie 18, 2008

Moses as Leermeester; Mega-kerke

 “People don’t understand that I am fundamentally, foremost an evangelist. It’s what I care about. I don’t care about politics, I don’t care about political correctness, I don’t care about what established groups want me to do. I care about getting people into heaven.” — Rick Warren 

Moses as leermeester

Ons het die afgelope drie dae na verskeie van Moses se rolle gekyk: dienaar, leier en profeet. Vandag kyk ons na ʼn laaste rol: leermeester. Moses word beskou as die groot tussenganger van die tora – van onderrig. Histories is dit wat ons vandag in Eksodus tot by Deuteronomium kry oor baie eeue bymekaargemaak en verwerk uit verskillende kontekste. Dit is dus verbasend dat feitlik al die Goddelike voorskrifte wat ons hier kry met Moses verbind word.

Het die Here dan net deur Moses gepraat … en nie ook deur ons nie? (Num 12:2) Hierdie vraag van Mirjam is belangrik, want sy was ʼn profeet. God praat met profete deur visioene en drome. Met Moses praat God egter direk (Eks 33:7 – 11). Ons lees dat Moses se gesig op Sinai blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het (Eks 34:29). Hierdie getuig van die oorsprong, betroubaarheid en gesag van Moses se woorde. Moses word vertrou en Moses se woorde is betroubaar weens sy verhouding met God.

Moses se rol as tussenganger oor die tora word dikwels vertolk as dié van wetgewer. Dit is misleidend, want die verhouding tussen God en Israel in nie ʼn wetlike een nie. Die tora bring God se ideale en die aanbevole praktiese optrede onder sekere omstandighede bymekaar. Ons moet onthou dat Israel ʼn baie hardkoppige volk  was (Deut. 9:6).

Ons moet onthou dat Jesus self sê dat die aard van die wet is een van kompromieë. As hulle Hom vra oor die toelaatbaarheid van egskeiding al dan nie, sê Hy: Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy (= Moses) hierdie bepaling vir julle gemaak het (Mark 10:5). Moses se onderrig laat geen plek vir kompromieë nie.

Aan die einde van sy lewe lewer Moses ʼn grootse toespraak (of preek). Deuteronomium is ʼn poging om die fondament vir toekomstige geslagte neer te lê.

Moses was primêr ʼn dienaar van God. Hy het egter sekere sekondêre rolle vervul – leier, profeet en leermeester. Dit geld vir almal van ons: ons is primêr dienaars van God en sekondêr prokureurs of onderwysers of ambagsmanne of wat ook al.

 

Mega, Giga en Terra-kerke 

Baie mense het die einde van die megakerk voorspel. Indien enigiets is hulle besig om veld te wen. Megakerke word ook steeds groter. As ʼn kerk eers meer as 5 000 lidmate het, lyk dit asof hy vinniger groei. Volgens navorsing deur Church Growth Today  sal hierdie prentjie waarskynlik nie oor die volgende twintig jaar verander nie. Tog is meeste van die publikasies anti-megakerk.  In die VSA kry ons vandag:

·         36 giga-kerke – meer as 10 000 mense in die eredienste tydens die naweek.

·         In 2008 sal ons die eerste terra-kerk sien – meer as 50 000 mense in die eredienste. Daar is natuurlik terra-kerke elders in die wêreld, maar nie in die VSA nie.

·         Dit lyk asof mega-kerke groei ten koste van medium grootte kerke (2 000 tot 5 000 in die eredienste).

·         Terselfdertyd is daar ʼn dramatiese vermindering van kleiner kerke (minder as 600 Sondae in die eredienste).

Bill Easum voorspel dat teen die jaar 2025 die ontluikende kerk steeds net ʼn klein nis sal vul. Die klein, postmoderne kerke sal dramaties vermeerder. Easum sluit sy kommentaar af met die volgende voorspelling: If you are a pastor in your 20s to 40s in an established denomination, you have some serious choices to make. The odds are before you die your denomination will cease to exist as you know it today.

 

Andreaskruis

Volgens tradisie het beide Petrus en Andreas aan ʼn kruis gesterf. Die Romeine wou hulle aan ʼn gewone Romeinse kruis ophang, maar uit agting vir die kruis van hulle Here het hulle gevra dat die vorm van hulle kruise verander moes word. Hulle het onwaardig gevoel om aan dieselfde soort kruis as Jesus te hang. Petrus se kruis is omgedraai, terwyl Andreas se kruis in die vorm van ʼn X verander is. Die X-kruis staan vandag bekend as die Andreaskruis (crux dedussata) en is deel van onder andere die vlae van Skotland en Jamaika.

 

Older Posts »

Kategorië

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.