It is not that the church’s calling is to ape the world, for it is called rather to develop a Christian counter-culture. At the same time, we must listen tot the voices of the world in order to be able to respond to them sensitively, though without compromise – John Stott.
Het leiers onbeperkte mag?
Om hierdie vraag te antwoord, gaan ons kyk na die konings na Salomo tot by die ballingskap. Hierdie konings het die mag van hulle posisie gehad – politieke gesag. Dit gee egter nie outomaties vir hulle godsdienstige en morele gesag nie. Die konings kan baie vir die godsdienslewe van die volk doen – ten goede (Hiskia en Josia) of ten kwade (Manasse).
Meeste van hierdie konings se leierskapstyl sou ons as outoritêr beskryf – hulle was diktators. Maar tog was daar beperkings op hulle mag: hulle moes luister na die profete. So lees ons van Sedekia: Hy het geen berou getoon toe die profeet Jeremia hom op bevel van die Here aangespreek het nie (2 Kron 36:12). Wat sê dit vir ons? Aardse konings is ondergeskik aan die hemelse Koning. Die koning is in werklikheid ‘n dienaar van God. Maar om leier en dienaar te wees is nie so maklik nie – dit klink teenstrydig.
Die konings van hierdie tydperk is dikwels suksesvol volgens ons maatstawe – hulle bou stede, hulle het sterk leërs, hulle wen oorloë, ens. Maar min van hulle slaag die toets van leier en dienaar, Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hierdie sinnetjie klink soos ‘n refrein deur Konings en Kronieke.
Wat leer ons?
1. Geen leier op aarde het absolute mag nie. Afgesien van die beperkinge wat die wêreld op hulle plaas (direksie of kerkraad), is hulle ook ondergeskik aan ‘n hemelse Koning.
2. Leierskap maak groot godsdienstige en morele aansprake op leiers. Hiermee gaan baie mense verskil, want ons het mos hoë mure tussen ons godsdiens en ons werk gebou – die twee moet tog net nie deurmekaar raak nie. Dit werk nie so nie: as ek ‘n Christen is, is ek dit sewe dae per week en op alle terreine van my lewe – as ek werk, as ek speel, as ek by my gesin is, as ek Sondag in die kerk is.
Lei sonder mag?
Max de Pree het ‘n uitstekende boek (Leading Without Power) geskryf. Sy basiese uitgangspunt is dat jy jou potensiaal kan verwesenlik as jy as persoon en jou organisasie verby beheer beweeg. Dit vereis egter dat jy moet skuif van ‘n organisasie na ‘n beweging. Dinge wat lewe gee aan ‘n beweging sluit in goeie kommunikasie, waarde geheg aan families, ‘n visie wat deur almal gedeel word, die bou van vertroue, ‘n plek van hoop en nalatenskap – laat ek iets betekenisvol na.
Hoe lyk so ‘n plek waar ek my potensiaal kan verwesenlik:
1. Die beweging is oop vir verandering, meningsverskil, betrokkenheid en idees wat ons kan ontstel.
2. Die beweging bied die geleentheid vir mense om te leer en te groei.
3. Die werk is uitdagend.
4. Alle uitgediende bagasie word weggegooi.
5. Die beweging moedig mense aan om te besluit wat gemeet moet word – en dan help die beweging mense om die werk te doen.
6. Die beweging genees mense met vertroue, versorging – en hulle vergeet.
7. Mense in hierdie bewegings besef dat organisasies ‘n sosiale omgewing is.
8. Die bewegings vier fees.
Dit is belangrik dat leiers omgewings skep waarbinne mense hulle volle potensiaal kan bereik. Hoe doen hulle dit? Deur bemagtiging, deur alle lede te verryk, deur die organisasie aanspreeklik te hou vir sy mense en deur beheer te los. Dit beteken nie dat mense nie bekwaam moet wees nie: Character cannot replace competence.
Hoe weet ons wanneer ‘n organisasie besig is om agteruit te gaan – om ‘n organisasie te word?
1. Ons verkies gemak bo veelvuldige sienings.
2. Ons verkies burokrasie bo selfstandigheid.
3. Ons verkies beheer bo uitdagings.
4. Ons vertrou op taakbeskrywings in plaas van persoonlike gawes.
5. Alle besluit word oorheers deur reëls.
Daar is een faktor waaroor ons nie genoeg praat nie – nalatenskap. Elkeen van ons wil iets nalaat; iets waaraan mense dink as hulle oor ons praat. “A legacy results from the facts of our behavior that remain in the minds of others, the cumulative informal record of how close we came to the person we intended to be” .